Die Ander Onberigte Kant van #FeesMustFall

fees-must-fall

fees-must-fall Die afgelope aantal weke was die media propvol van die #FeesMustFall veldtog van hoofsaaklik swart studente wat betoog teen die hoë fooie van universiteite. Ongelukkig was baie van hierdie betogings geweldadig en bykans R500 miljoen se skade is aan universiteit kampusse aangerig.

Dit is so ironies dat ons “kroonprinses” Openbare Beskermer, Adv. Thuli Madonsela, se dogter as EFF Studenteleier by Tukkies self ook deur hierdie betogings geraak word wat ‘n mens laat wonder wat ons Thuli onder dieselfde omstandighede sou gedoen het sou sy nou ‘n jong student daar gewees het…Aartjie na haar maartjie, of sou ek eerder sê, doggertjie?

Op sosiale media lees ek hoe my mede wit mense kommentaar lewer oor hoe die swart mense blykbaar niks anders ken as om te vernietig nie en sommiges het selfs die gewraakte troefkaart uitgebring dat “hulle soos bobbejane tekere gaan” wat tragies van nuuts af die rasistiese dilemma opbring.

Ek ondersteun gladnie die geweld en beskadiging van eiendom wat saam met hierdie betogings gepaard gaan nie, maar sien inderdaad ‘n groot pitsweer raak wat ons wit mense ook direk raak meer as wat meeste van ons sal wil erken.

Universiteit het onbekostigbaar vir meeste van ons geword. Dit affekteer nie net slegs die swart mense nie, maar ook ons eie wit mense. Ek weet van verskeie wit begaafde jong mense wat dit eenvoudig gladnie kon bekostig het om na Matriek universiteit toe te kon gegaan het nie en was hulle verplig om dadelik te gaan werk het. Daarby gesê, dit is natuurlik as hulle daarin kon slaag om ‘n werk te kon gekry het.

My persoonlike waarneming omtrent ons huidige stelsel is dat ‘n graad meer waardevol geword het as ondervinding binne in ‘n bepaalde bedryf. Blaai nou deur geadverteerde posisies op die Internet en kyk self hoeveel van die hoogsbetaalde posisies is slegs vir diegene wat die een of ander universiteitsgraad het.

Daardie posisies is somtyds van so ‘n aard dat byvoorbeeld ‘n menslike hulpbron bestuursposisie slegs meld dat jy ‘n universiteitsgraad moet hê, maak nie saak in watter rigting nie. Jy kan derhalwe ‘n B. Mus (Musiek graad) hê en aanspraak maak om personeel te bestuur, waar iemand sonder ‘n graad maar met 10 jaar lange ondervinding in personeelsake nie eens geregtig is om aansoek te doen vir sodanige posisie nie.

Die goeie voorbeeld wat ek ook graag gebruik is die een van ‘n Akte Tikster. Daardie dame kan etlike jare se ondervinding met aktevervaardiging hê tot so ‘n punt waar haar baas die Aktevervaardiger slegs haar werk moet afteken, maar omrede sy nie die graad het nie mag sy nooit ‘n Aktevervaardiger haarself wees nie. Haar salaris is enige iets van R5000 per maand tot R15000 per maand vir dames met etlike jare se ondervinding vergelykend met die inkomste van tot etlike honderderde duisende Rand per maand van haar baas, wat eenvoudig net nie genoeg is om vir haar die geleentheid te bied om ook in te skryf vir die vier jaar graad waarvan sy alreeds oor die nodige teorie en ondervinding beskik nie.

Dan wat van nie-gegradueerde werkers binne die gesondheidsberoep of selfs gegradueerde ervare verpleegpersoneel wat eintlik ‘n dokter se werk maklik kan doen? As die Fisioterapeut se helper eintlik al die behandelings vir die pasiënte gee onder toesig van hom, waarom mag sy nie ook die geleentheid gegun word om ‘n Fisioterapeut te word sonder om universiteit toe te gaan nie?

Kyk ook hier na die boekhoudster van die Ouditeur. Sy stel basies die finansiële state vir haar baas die Ouditeur op spesialis rekenaar sagteware op, maar omrede sy nie die graag het nie mag sy ook nooit ‘n Ouditeur haarself wees nie.

Kan enige een van julle julself met so bogenoemde voorbeel situasies vereenselwig? Waarom moet ‘n persoon ‘n universiteitsgraad hê om vir ‘n spesifieke pos aansoek te doen, maar in meeste gevalle word praktiese ondervinding geheel en al geïgnoreer?

Ek is van mening dat ‘n universiteitsgraad wat geassosieeër word met “geleerdheid” en honderde duisende Rand bedrae, vandag die toegangskaart geword het tot ons werkersmark. Dit is so ironies dat dit juis gewoontlik daardie ongegradueerde ervare werkers in besighede is wat die nuut gegradueerde “groentjies” moet leer wie almal gewoontlik dadelik begin met ‘n hoër salaris as hulle leermeester of meesteres.

Is dit regverdig? Natuurlik is dit onbillik en enige logies denkende mens sal dit ook so insien! Om oor ‘n graad te beskik gee jou gladnie die outomatiese kennis en ondervinding binne ‘n spesifieke bedryf nie.

Nou hoe los ons hierdie probleme op?

Eerstens is ek van mening dat mense met grade geheel en al te veel betaal word ten koste van die wat eintlik hulle werk vir hulle doen. Die wat ons professionele mense by die kantoor ondersteun word nie nastenby regverdig betaal en behandel nie en in menigte gevalle weet hulle eintlik meer van die bedryf af as hulle gegradueerde baas.

Baie gegradueerde persone het gewoontlik die houding teenoor ander ongegradueerdes, dat hulle beter is en op meer aansien in die lewe geregtig is. Die hoër inkomste kerf het die deurslaggewende faktor in Suid-Afrika se status geword en nie die veronderstelde verhouding tussen bevoegdheid en ywer om ‘n spesifieke beroep te mag beoefen nie.

Tweedens, toelatingseksamens vir professies soos die vir prokureurs, aktevervaardigers, ouditeure, geoktrooieerde rekenmeesters, fisoterapeute, dokters, aktuarisse, en vele ander, moet oopgestel word om ook afgelê te word deur mense wat nie ‘n toepaslike graad het nie maar wel oor etlike jare se ondervinding in daardie bedryf beskik.

Derdens, elke persoon wat Matriek afgelê het, het die reg om gratis universiteit toe te mag gaan. Gratis hoër onderwys is ongetwyfeld moontlik in ons land, ongeag wat die regering ook al sê. Dit is meer winsgewend vir ‘n land om geskoolde burgers te hê as om ongeskooldes te hê en vir hierdie rede wonder ek wat die eintlike rede is waarom daar nie deur ons regering belê word in gratis of ten minste bekostigbare hoër onderwys nie.

Laastens, maar nie die minste nie, moet ons besighede ‘n gewoonte ontwikkel om meer mense in diens te neem met die oog op indiensopleiding tot dieselfde stand as ‘n universiteitsgraad. Besighede moet omgeskakel word in hoër onderwys instansies wat derhalwe ook die moontlike kontantvloei las van die regeging sal kan verminder.

Wanneer ons almal weer in die media lees of sien hoedat die #FeesMustFall veldtog uitdraai, dink aan hierdie paar punte en besef dat daardie probleem nie net slegs swart mense se probleem is nie maar inderdaad ons almal s’n.